In vervloë tye was markpleine ruimtes waarin goedere van hand verwissel het, waar ruilhandel plaasgevind het. Dit was ruimtes waar intense interaksie plaasgevind het. Daar is gebie en gestry, voordele en nadele uitgewys, swak punte en sterk punte uitgelig, geargumenteer en ooreengekom, en daar is geanimeerd in groepies gestaan en gesels. Markpleine het veral die geleentheid gebied vir mense wat andersins nie kontak met mekaar kon hê nie, om vir ‘n wyle oogkontak te maak
Met hierdie nuusbrief wil ons nie ‘n onpersoonlike moderne markplein daarstel waarin mense by mekaar verby stap, net tersluiks na stalletjies blik en miskien terloops iets aanskaf nie. Ons wil die interaktiewe gees van die markpleine van weleer nastreef. Ons doel is om te markplein.
‘n Filosofieprofessor het eenmaal vir sy eerstejaarstudente die storie vertel van ‘n groepie burgers wat op ‘n koue wintersdag teen die einde van die Anglo-Boere-oorlog deur die Kakies hot en haar oor die vlaktes gejaag is. Moeg en
gehawend het hulle die aand ‘n vuur aan die voet van ‘n berg aangeslaan. Die vuur het net lekker gebrand toe die Kakies op hulle afkom en hulle weer voet in die wind moes slaan. ‘n Troppie bobbejane wat in die berg gehou het, is aangelok deur die vlamme en het in ‘n kringetjie om die vuur gaan sit om hulle te verwarm. Toe die vuur uitgebrand was, het die bobbejane teruggekeer na hulle skuilplek in die kranse. Hulle het nie die insig gehad om die vuur aan die gang te hou deur van die brandhout wat die burgers agter gelaat het, daarop te pak nie.
Die punt van die storie is dat die mens ‘n unieke vermoë het om oorsaak en gevolg by mekaar te bring, ‘n vermoë wat hom van bobbejane onderskei. Die mens kan dink; hy is ‘n verstandelike wese. Die burgers sou seker ook gepeins het oor dit wat tot hulle lot aanleiding gegee het, iets wat bobbejane ewe min kan doen. Die mens kan wonder oor homself; hy is ook ‘n geestelike wese. Menswees is uniek.
Dit is hierdie unieke menslike vermoëns wat markplein moontlik maak soos ons dit in gedagte het. Markplein wat die volle spektrum van deelnemers se verstandelike en geestelike menswees ontgin.
Kom markplein dus saam met ons, vrymoedig en sonder voorbehoud. Kom bied ware aan vir ruilhandel. Kom knoop geselsies aan. Kom redeneer, stry, onderhandel en korswil. Kom stook die vuur met brandhout sodat die koue verdryf kan word. Kom wees saam met ons mens.